Jou anker in die lewe

deur Izak Loots

Sekuriteit is vir elke mens baie belangrik. Ons soek daarna op verskillende terreine en maniere. Want sonder sekuriteit [‘n anker in ons lewe] voel ons onseker, onveilig en dit maak ons bekommerd. Daarom neem ons byvoorbeeld versekering op ons eiendom  en ons lewe uit en tref ons op hierdie manier voorsorg vir die wis en die onwis.

Wanneer een of meer van hierdie sekerhede en sekuriteite wat jy het, skielik van jou weggeneem sou word [byvoorbeeld om jou werk met ‘n vaste inkomste te verloor, of jou lewensmaat], bring dit intense spanning en bekommernis mee. Jy voel skielik onseker en ankerloos – magteloos en uitgelewer. Geen wonder nie dat beweer word dat sekuriteit, vastigheid en geborgenheid een van die mees basiese behoeftes van die mens is nie. Daarom soek hy voortdurend na meer sekuriteit.

Maar wat is die beste sekuriteit wat jy kan besit?

*Goeie versekering op jou lewe?                                                                                                                 

*’n Vaste werk met ‘n goeie inkomste?

*’n Goeie pensioenfonds wat aan jou ‘n sorgvrye oudag waarborg?

*’n Puik mediese fonds wat vir alle gebeurlikhede [ook hartomleidings]         voorsiening maak?

Natuurlik is al hierdie dinge en baie ander wat nie genome word nie, baie belangrik. Maar, gestel dit word vandag van jou weggeneem. Alles. Jy sit skielik sonder dit. Wat sal dan gebeur?

Dit het al met baie mense gebeur. Soos Job se geval toe hy alles verloor het.

En dit gebeur vandag nog. Soos die man of vrou wat ‘n pakket ontvang omdat sy of haar pos by die werk skielik oorbodig geword het as gevolg van rasionalisasie of omdat regstellende aksie vereis dat die pos ontruim moet word vir iemand anders.

Of wat van die gesin wie se huis met al hulle besittings in ‘n brand verwoes word –  hulle het geen versekering nie? Of die boer wie se hele oes met een haelbui aan flarde geslaan word of deur ‘n brand verwoes word? En die vrou wat moet hoor dat haar man, die enigste broodwinner, skielik aan ‘n hartaanval gesterf het? Of jou jare lange huwelik verbrokkel stelselmatig en dit eindig in die skeihof? Beteken dit die einde? Het daardie persoon dan alles verloor?

In Job se geval weet ons dat hy ten spyte van al die rampe wat hom getref het, steeds kon jubel – al het hy gestroop op die ashoop gesit:

                           Die Here het gegee en die Here het geneem.

                           Prys die Naam van die Here!

En dan was daar ook nog Paulus en Silas wat teen middernag in die tronk gebid het en tot lof van God gesing het.

As al hierdie dinge met jou sou gebeur, sal jy saam met Job en Paulus en Silas en baie ander gelowiges steeds ‘n loflied kan sing? Of sal jy maar vir Job sê; “Skuif op, maak ook vir my plek op die ashoop?” As ons eerlik is was daar ook dae dat ons gewens het dat ons maar ashoop toe kan gaan. Maar dan was daar telkens weer die bevrydende ervaring dat Hy steeds daar is. Die lied van sekerheid dat ons aan Hom behoort, kon niks blus nie.

*Liewe Heer, ek bid dat U die persone wat nou hier lees sal Salf met U liefde, Vrede, Genade, Vreugde en Leiding. Ek mag nie hul probleme ken nie Here, maar U doen! Ek vra dat U asseblief altyd met hulle sal wees.   AMEN

Dankbaarheid

deur Izak Loots

Die goedertierenhede van die HERE wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag. [Ps. 89:2]

Ons neem so baie dinge as vanselfsprekend. As ons iets goeds en moois ontvang, dink ons baie keer dit is ons reg of ons verdien dit. Mense wat so leef, is ook baie bewus daarvan as hulle iets misloop en het ook die geneigdheid om net nog meer en meer te wil hê. In hulle koppe en harte harte verdien hulle dit mos.

Daar is ‘n ander ingesteldheid waarmee ‘n mens kan leef wat jou eie lewe en die van almal om jou baie verryk. Dit is om te leef met ‘n ingesteldheid van dankbaarheid. Dit is om te leef met ‘n fokus op wat jy het eerder  as dit wat jy nie het nie. Dan waardeer ‘n mens klein dingetjies in die lewe. Dan is jy ‘n tevrede mens wat oorloop van dankbaarheid.

Van al die maniere om God te aanbid, is dankbaarheid waarskynlik die een wat die meeste misgekyk word. Van die miere tot die olifante, sien ons hoe God sy seëninge op al Sy skepsels uitgestort het, maar slegs die mens beskik oor die vermoë om deur woorde en verbeelding uitting te gee aan dankbaarheid.

‘n Lewe van dankbaarheid lyk egter anders as om bloot goeie maniere te hê en dankie te sê. Die gawe van dankbaarheid word deel van ons lewe wanneer ons ten volle besef wat God vir ons uit genade gedoen het en dit ons dryfkrag word om elke dag vanuit dankbaarheid te leef.

Daardie dankbaarheid in jou hart spoel oor na ander mense en verryk alles en almal  om jou. Hoe spesiaal is die Here se liefde vir jou? Raak dit jou nog diep as jy dink wie jy werklik is en dat Hy jou ten spyte daarvan lief het – onvoorwaardelik en innig? Wil jy Sy Naam prys met blye galme saam met mede-gelowiges? Loop jy oor van dankbaarheid as jy daaraan dink dat Jesus in jou plek aan die kruis gesterf het en vir jou ‘n nuwe lewe verseker het? Raak jy opnuut dankbaar vir God se liefde en is opgewonde oor Sy goedheid en guns.

Gebed: Here, vergewe my dat ek so gereeld ontevrede en ongelukkig is. Vandag loop my hart oor van dankbaarheid omdat U my onvoorwaardelik lief het.  Dankie, Here!       AMEN.

Wat is Liefde?

LIEFDE HET GEEN GELD NODIG NIE

deur Izak Loots

Liefde is ‘n glimlag, nie ‘n frons NIE.  Liefde is ‘n drukkie, nie ‘n klap in die gesig NIE. Nee, die Liefde is omgee, nie om net misbruik te word NIE. Liefde is om die sambreel vir iemand in die storm van hulle lewe te wees en die reënboog na die storm, wat altyd daar sal wees. Liefde is om iemand se trane af te vee, nie dit te veroorsaak nie.

Liefde is om boek te hou van al die goeie tye, nie altyd net die slegte tye nie. Liefde vergewe nog voor iemand jou seer gemaak het. Jy weet mos, daardie LIEFDE wat GOD vir ons HET moet jy as Christen kind ook uitdeel, want wanneer jy daardie LIEFDE ken sal dit jou liefde ‘n ligtoring maak wat ander die rigting KAN aanwys in hul donker dae.

Daardie selfde LIEFDE maak van jou ‘n boom wat ook koelte kan gee vir die wat rus nodig het. Liefde word nie gespreek nie, maar gewys. Liefde kan genees, vertroos, versterk en al het jy niks om iemand te bied nie, maar jy het LIEFDE wat geld nie kan koop nie, is jy die rykste mens op kierdie aarde! So deel dit met almal SODAT HULLE OOK RYKDOM KAN KEN.

Vra met liefde elke dag in gebed dat GOD jou sal vul met SY HEILIGE GEES, om elke dag meer en meer soos Hy te kan wees. Vul jou met die vrugte van die Gees.

My gebed vir jou:

Ek het vandag ‘n gebed vir jou gedoen.

Ek weet dat die Here dit gehoor het –

Ek het sekerheid daarvan in my hart,

al het Hy geen woord gespreek.

Ek het nie gevra vir weelde of roem,

ek weet jy sal nie omgee.

Ek het gevra dat Hy naby jou sal wees

gedurende jou besige dag.

Ek het gevra dat Hy jou Sy ryke seëninge

sal gee wat vir ewig sal duur.

Om jou gesondheid en seëninge te skenk en

vriende om dit mee te deel.

Ek het gevra vir blydskap deur alle klein en groot

gebeure in jou lewe.

Maar dit was Sy vrede vir jou

wat ek die meeste gevra het.

Voetspore

deur Izak Loots

Ons is as mens gemaak, deur God, om vorentoe te beweeg. Vorentoe na Hom toe. Waar Hy reeds gereed staan met Sy arms wyd oop om ons te omvou met Sy liefde. Hy het Sy Seun, Jesus gegee om langs ons te loop en ons te help om op die regte pad te bly. Om ons weer te help om op ons voete te kom wanneer ons struikel. En om ons lig te wees wanneer ons deur donker tye gaan.

 So baie mense kruis ons lewens gedurende ons lewenspad en laat voetspore na. Sommige mense storm jou lewe binne, vertrap alles en laat voetspore van hartseer en ongeluk agter.

Jesus is daar om ons vorentoe te help tot by God al beteken dit Hy moet ons party dae self dra. Hy is altyd met ons en Hy help ons voetspore maak.

Ander mense loop saggies deur jou lewe en laat voetspore wat ‘n mens amper nie kan sien nie.

En dan is daar die mense wat met ‘n ferm pas deur jou lewe stap en voetspore van liefde, geluk, vreugde en menslikheid agterlaat. Dit is die mense wat jy wil terugroep as hulle voetspore eindig want jy mis hulle en sou graag ‘n langer pad met hulle wou stap.

Hoe lyk die voetspore wat jy in ander mense se lewens agterlaat?

Dis daardie voetspore wat jy agterlaat in die wêreld. En alles wat jy doen  en gedoen het is afgedruk in daardie spoor. So sorg dat die spore wat gelaat word, skoon en rein is. Dat dit goeie spore is vol vriendelikheid, verdraagsaamheid, respek en liefde.

Wanneer God ons lewensdraadjie nou sou knip…. Wat se spore gaan ons na laat?

Moet nooit spore trap wat jy later wil uitwis nie!

Moet nooit woorde spreek wat jy later wil terug trek nie!

Moet nooit dade doen wat jy in elkgeval nooit weer ongedaan kan maak nie!

Lewe dan Godvresend!

Trap spore van geregtigheid!

Spreek woorde van lewe!

Doen aan ander soos ons Hemelse Vader aan ons doen!

Sodat hul dan sê: “Dit was ‘n man/vrou na God se hart!

Laat die voetspore wat julle agterlaat, ook Gelowige Spore wees wat ander kan en wil volg.

Gebed:  Here help my om voetspore van liefde en vreugde te laat in die lewens van mense wat my lewenspad kruis.  AMEN

‘n Nuwe Begin

deur Izak Loots

So het 2020 gekom en gegaan. Dit was inderdaad ‘n moeilike jaar. Dit het gevoel die hoogtepunte was laer en die laagtepunte hoër!

Die wêreld was so vol drama! Die gewone skokke van elke dag was meer intens. Die Corona-virus, plaasmoorde en aanrandings het nuusgebeure oorheers. En dit oorheers tans nogsteeds die nuusgebeure. En dit is alles so uitputtend.

Die jaar wat verby is wil nie een van ons weer oorhê nie en is bly dis verby.

Ons het almal hierdie nuwe skof ingegaan met ons eie benadering, sommige met blymoedigheid, omdat hulle uit ervaring van die vorige jaar rede sien tot blymoedigheid, ander met huiwering, omdat die toekoms duister is, en elke skrede ‘n waagstuk; sommige met oormoed omdat hulle nie so vêr sien soos hulle naaste nie, ander met stille hoop en ‘n vertroue wat gebou is op die dieper ervaring van die gees wat die vermoë het om te verwerk wat hy ervaar.

Ons almal moet die paadjie loop, en dit is goed om te onthou dat dit nie ‘n nuwe pad is wat ons bewandel het waar ons die oue van verlede jaar afgesluit het nie. Die pad is nog dieselfde pad, al het ons in hom ‘n baken gestel – die baken dui maar ‘n uitspanplek aan, en nie ‘n bestemming nie.

Wat dan vir ons voorlê aan lief en leed, het reeds sy wortels gehad in ‘n bodem waar ons reeds ons spore gelaat het. Baie van wat oor ons gaan kom in die skof wat voorlê, is slegs die vrugte van die saad wat ons gesaai het, alleen of saam met ander, ten goede of ten kwade, onverskillig en onbedagsaam, of voorbedag en doelgerig. Baie ander dinge wat vir ons voorlê, as enkelinge of as groep en as volk, is die vrugte van saad wat deur ander hande gesaai is, op ander akkers. Dit mag ‘n nuttige en diensbare vrug lewer, of ‘n distel of onkruid wat wyer sprei as die akker waarop hy gesaai is. Ons weet nie waarin ons gaan loop nie, ons ken nie die slaggate voor , die opdraandes, die steiltes, die gevaarlike drif of die onbegaanbare rivier nie. Maar ons dra darem altyd saam met ons ‘n lig op ons pad en ‘n lamp voor ons voete, en saam met ons beweeg dit en verlig dit, as ons dit brandende hou met die olie van ‘n bedrywige en werksame gees, en met die geloof en die hoop en die liefde wat die erflating is van hulle wat in die leer van die liefde grootgeword het.

Want sonder die geloof in God kan ons die donkerte nie in nie, omdat ons lamp maar floutjies skyn as die olie ontbreek. Sonder die hoop sien ons die donker wolke wat oor ons kom,  slegs as die draers van die storm en sy geweld, en ons vergeet dat hy die lewegewende water in sy skoot hou. En sonder liefde is ons nie meer ‘n vonk van die ewige vlam wat die liefde self is en moet ons op die klein krag staatmaak teen wat selfs vir die sterkstes oorweldigend is as hulle krag nie van elders geput word nie. Laat dit dan die olie van ons lamp wees in die donker ure: geloof en hoop en liefde. Laat ons dan vasberade wees dat die vonk, wat ons ontvang het uit die vlam, eendag wanneer ons die einde van die trek bereik, nie swakker nie, maar sterker sal terugkeer na sy bron.

DRIE wense wat ek graag met u wil deel in hierdie nuwejaar is:

  1. Mag jy en jou familie/vriende ‘n gesonde, rustige, gemaklike en ontspanne jaar beleef.

Mag die oomblikke saam met jou familie en vriende werklikwaar aangenaam en vol liefde en waardering vir mekaar wees. Mag jou oomblikke van rus en privaatheid meer word. Mag jou Geloof versterk word deur die Heilige Gees se hulp.

  1. Mag jy ‘n beter werksjaar beleef.

My wens is dat jy minder konflik, spanning en onnodige drama sal ervaar. Ek hoop jy bou goeie verhoudinge met jou kollegas en vennote. Ek bid dat jou kliënte jou vir jou harde werk sal waardeer en beloon. Mag jy sommer baie werksbevrediging ervaar.

  1. Mag ons land en ons wêreld ‘n beter jaar beleef.

Mag korrupsie en leuens deur diens en waarheid vervang word.

Mag misdaad vasgevat word. Mag jy en jou dierbares veilig en gelukkig in julle huise, motors en omgewings voel.

Mag die armoede en swaarkry deur voorspoed en welwillendheid vervang word.

Die Gelofte

deur Izak Loots

Op 28 November 1838 word Andries Pretorius gekies as hoofkommandant van die kommando wat later bekend sou staan as die Wenkommando, wat op die punt gestaan het om teen die Zoeloes uit te trek. Hierdie was die tweede kommando wat op die been gebring is met die doel om die moord op die Piet Retief-geselskap asook die aanvalle op die laers by Bloukrans en Moordspruit te wreek. Die kommando het bestaan uit 467 Boere, 3 Engelse asook ‘n onbekende aantal swart- en kleurlingbediendes. Hulle neem 57 waens en een koskar saam.

Op 9 Desember 1838 lê Sarel Cilliers  aan die Wasbankrivier namens die aanwesiges die eerste keer die Gelofte af. Dit word daarna by elke aandgodsdiens herhaal.

Op Saterdag, 15 Desember berig die verkenners dat die Zoeloemag naby is en trek Pretorius op ‘n strategiese plek aan die Ncomerivier laer. (Die Trekkers sou later hierdie rivier Bloedrivier noem weens die bloed van die gesneuwelde Zoeloes wat die water rooi verkleur het.) Die Gelofte word die aand vir oulaas afgelê.

Op Sondag, 16 Desember moet die Boere slag lewer teen ‘n Zoeloemag van ongeveer 10 000 man, volgens die betroubaarste skattings (dus ‘n oormag van ongeveer 20 teen 1). Die uiteinde van die slag van Bloedrivier was dat meer as 3 000 Zoeloes gesneuwel teenoor nie ‘n enkele Boer nie (slegs 3 Boere, waaronder Pretorius, het wonde opgedoen). Dit maak die Slag van Bloedrivie nie net die grootste militêre oorwinning op Suid-Afrikaanse bodem nie, maar verskeie gebeure rondom die slag kan uitgewys word wat dit na oorweging onmoontlik maak om nie God se ingryping in die gebeure te sien nie.

Die bewoording van die Gelofte word weergegee soos dit op die gedenkplaat op die slagterrein verskyn:

“Mijne broeders en medelandgenoten, hier staan wij tans op een ogenblik voor een Heilige God van hemel en aarde om een Belofte aan Hem te beloven, als Hij met Zijn bescherming met ons sal wezen, en onze vijand in onze handen zal geven dat wij hem overwinnen, dat wij die dag en datum elke jaar zoals een Sabbat in Zijn eer zullen doorbrengen, en dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zullen waar het Hem zou behagen, en dat wij het ook aan onzen kinderen zullen zeggen dat sij met on serin moeten delen tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten. Want de ere van Zijn Naam daardoor zal verheerlikt worden, dat de roe men eer van overwinning aan Hem sal worden gegeven.”

Sterre en Planete – Sterrekyk vir vroegopstaners

by Pieter de Jager

Om so vyfuur soggens met die eerste koffie in die hand, dagbreek in te wag, was tot nou toe, ʼn foltering. Met die somertemperature wat ons nou ervaar, is dit weer pure vreugde! Die lysters gesels terwyl die bleeklig wys waar die son aanstons gaan verskyn.

Venus het al goed aangeskuif vandat sy ʼn dagbreker geword het en sy skitter al byna reg noord. Mars, rooi in die gesig, is al op die afdraand, rigting wes, maar Venus gaan hom voor die wenstreep, horison, verbysteek. Mars ry seker met sy briek aan, want toe ons laas oor die wedloop gesels het, was Jupiter en Saturnus teen sononder net-net sigbaar. Nou is hulle al goed op pad om Skerpioen aan die stert te gryp as die son nie meer kyk nie.

Terug by dagbreek: Orion die Jagter, een van die bekendste sterrebeelde, sit net so ʼn aks noord van dagbreek. Die drie konings, ook drie susters (Wat van broeders?), is Orion se gordel. Van die gordel af hang sy swaard. (Die arme Orion is voete in die lug, dus “ hang” sy swaard boontoe!) Sy linkervoet is die helder Rigel en sy regterskouer is die rooierige Betelgeuse. So effens regs bo Orion is Sirius, die helderste ster in die hemelruim. Sirius se wentelmaat is Canopus, so min of meer op dieselfde hoogte, maar meer in ʼn suidelike rigting. Canopus is ook baie helder en dié twee is van die laaste sterre wat nog sigbaar is voordat die son hulle uitdoof.

Venus, noord noordoos, en Mars, beduidend wes van reg bo ons, is die laaste sigbare hemelliggame, voordat die son rêrig begin skyn. 

Geniet die koffie!

Volmaan, sterre en planete

deur Pieter de Jager

Vir die sterrekykers is daar op 3 Augustus 2020, ʼn merkwaardige vroegaandtoneel. Kyk in die rigting waar die maan moet opkom. Teen die tyd dat die maan haar towerlig oor ons straal, sit Jupiter en Saturnus al hoog teen die ooste. Planete is baie nader as die sterre, daarom sien ons hulle voor ons die sterre sien. Die sterre is nog onsigbaar weens die son se helderheid. Die Suiderkruis se twee wysers, is die eerste sterre wat sigbaar word, want die suiderhemel is die eerste donker. Reg bokant ons, sit so ʼn donkeroranje ster. Dit is Antares, die hart van die skerpioen.

Jupiter is die grootste planeet in ons sonnestelsel, met ʼn deursnee van 142 000 km., byna twaalfmaal dié van die aarde. Saturnus is die tweede grootste planeet, met byna tienmaal die aarde se deursnee, 120 000km., en hy is bekend vanweë die ringe in sy atmosfeer. Altwee dié planete het vele mane. Hulle is twee gasreuse wat soos die son, gedurig brand en self lig uitstraal.

Die skerpioen kan só uitgeken word: Vanaf Antares, die hart, meet jy na vyfuur toe, byna halfpad na die horison. Dáár krul die reusagtige stert na binne. Die verspot klein koppie en knypers, is drie flouerige sterretjies in ʼn westelike rigting van die hart af.

Die Suiderkruis is welbekend omdat hy ʼn getroue aanduider is van waar suid presies lê. Vroegwinter is dit veral interessant om te kyk hoe die kruis en sy wysers, in die aand in die suidooste verskyn, ʼn volle boog om ʼn vaste punt op die suiderhorison voltooi, en kort voor dagbreek in die suidweste wegraak.

Die maan se verskyning laat baie van die flouer sterre verdwyn. Hy, of sy (?) is slegs 380 000 km. van ons af, terwyl die sterre ligjare weg is.  Die maan weerkaats die son se lig, maar doen ook sommer allerhande wonderlike dinge aan ons belewenis en waarneming. Vele liedjies vertel van liefde wat blom in die maanlig! En spookstories…! Die maan se aantrekkingskrag het ʼn beduidende uitwerking op die getye van die see en tuiniers hou die stand van die maan dop vir die plant van sekere blom- of groentesoorte. Jagters weet dat bokke in die maanlig wei en dus bedags meer tyd het om op te let na gevaar.

Die son, sterre en planete, is die eerste dinge wat God geskep het. Al die kragte wat hemelliggame in hulle bane hou, al die energie wat uitgestraal word, is so onmeetlik groot. Dan skud Hy ons weer tot nugterheid met ʼn mikroskopiese virussie. Dan besef ons dat tussen Jupiter en Corona, niks vir God te groot of te klein is nie. Of dit nou my sondeskuld is en of dit ʼn haar van my hoof is, ek sal rustig slaap in die sorg van my Herder.

Onder die haak-en-steek: Terwyl ons wag op die wederkoms

deur Pieter de Jager

Die kerkkalender dui die Wederkoms nie aan soos wat Kersfees en die Lydenstyd aangedui word nie. Ons het ʼn dag waarop ons die Opstanding en Hemelvaart herdenk, en die uitstorting van die Heilige Gees, maar niks oor die Wederkoms nie.      

Daar is tekens. Mattheus 24 en 25 is Jesus se eie woord oor die Wederkoms. Christus self wys op die takke van die vyeboom, maar sê ook self die Wederkoms is nie vir ons om te weet wanneer nie. Dit sal wees soos ʼn dief in die nag. As die huisheer geweet het, sou hy gewaak het. Jesus vertel dan van die twee diensknegte: Een is getrou, en wanneer die huisheer onverwags terugkeer, vind hy hom besig met sy heer se opdrag. Gelukkig is daardie dienskneg!

Wát ons by Christus se Wederkoms gaan ervaar, word uitgespel in Mattheüs 25 vers 31 tot aan die einde van die hoofstuk. Dit is die slotwoord van die Profetiese Rede. Dit is duidelik en ondubbelsinnig. Niemand kan sê: “ Ek het nie geweet nie.” En dan die verskriklike uitspraak teen diegene wat geweet het, maar nie gedoen het wat hulle geweet het gedoen moes word nie: Hulle sal weggaan in die ewige straf.

Die Koning en Verteller in hierdie hoofstuk het ook goeie nuus, vertroosting en bemoediging vir sy kinders. Ons alledaagse wandel is tema van die verduideliking.  “ Ek het honger gehad, en julle het my te ete gegee…” Die regverdiges weet nie waarvan Hy praat nie, hulle is skoon verbaas. “ Here, wanneer het ons U honger gesien en te ete gegee?”. 

Dan verduidelik Hy: “ Vir soveel as wat julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.”  

Vir ons as regverdiges, is Jesus elke dag op ons pad. Ons is altyd in die geleentheid om Hom te ete te gee as Hy honger het. Ons is elke dag in die geselskap van Sy broeders. Soms vernames, maar meermale die geringes. Is dit nie vermetel om onsself as regverdig te ag nie? Nee! Ons is regverdig omdat Hy ons aan die kruis regverdig gemaak het. Ons, die skuim van die sondaars, is regverdig gemaak. Laat ons elke dag leef soos regverdiges en aan ons broeders, gering of vernaam, te ete gee as hulle honger het. So sal ons die Wederkoms met opgewondenheid tegemoet gaan.

Sterre en Planete

deur Pieter de Jager

As mens hier teen dagbreek, so sesuur, halfsewe, noordoos kyk, skitter Venus in al haar glans. Onmiskenbaar. Venus sal min of meer dieselfde baan as die son volg, soos al die planete, en een of ander tyd in die weste ondergaan. Net soos die son. As mens nou, nog steeds teen dagbreek, na die weste kyk, skitter Jupiter opvallend so in sy roete na ondergaan. Kort op sy hakke is Saturnus. As mens nou net so effens noord van reg boontoe kyk, sien jy Mars. So ʼn rooierige kêreltjie. Vier planete tegelyk in die lug! En as mens na jou voete kyk, sien jy die vyfde planeet, Aarde, sommer hier by jou.

Omdat die planete heelwat nader is as die sterre, sien mens hulle nog duidelik lank nadat die sterre verdwyn het.  Die wat in die aand sterre kyk, sal so teen halfnege, die einste Jupiter en Saturnus in die ooste sien opkom. Omdat die sterre daardie tyd helder is, en daar duidende van hulle is, moet mens seker maak hoe Jupiter en Saturnus as oefenmaats op hulle rondtes lyk. Naderhand ken mens hulle sommer maklik uit.

Dit is nou ʼn goeie tyd om die planete te leer ken, want voor die einde van die jaar gaan hulle nog in interessante wedlope betrokke wees.  Vroegaand en vroegoggend is die beste kyktyd. Dan is die sterre nie so verwarrend nie.